Nampol waarsku ‘arbeidsaktiviste’

Nampol se adjunk-inspekteur-generaal, generaal-majoor Joseph Shikongo, sê Namibiërs moet nie reg in eie hande te neem nie. Dit kom nadat leiers van die Namibia Economic Freedom Fighters-party die Cheetah sement-fabriek buite Otjiwarongo binnegegaan het. ‘n Saak van betreding is reeds in deiverband geopen. Terwyl hy nie direk daarvan melding gemaak het nie, het hy wel verwys na lede van die party wat verskeie besighede besoek het, blykbaar om werkers se regte te beskerm, en gesê dat die publiek eerder die owerhede nader om kwessies wat werkers se regte te bespreek. Volgens Shikongo kan mense nie eenvoudig besighede willekeurig probeer sluit nie. Hy sê die mag sal geen anargie of chaos toelaat nie. Besighede is reeds aangeraai om owerhede te skakel indien hulle op die manier gekonfronteer word by hul werksplekke.