NamPol vang 2 mans met N$5,55 miljoen se dagga

Die Namibiese Polisie het beslag gelê op nog ‘n reuse-besending skunk dagga. Die mag sê hulle het inligting gekry van dwelmsmokkelary vanaf Suid-Afrika, oor die Oranjerivier na Namibië. Die dwelms sou via Noordoewer die land ingebring word en was bestem vir Rundu. Lede het waak gehou en twee mans gearresteer nadat hulle die rivier onwettig oorgesteek het naby Noordoewer. ‘n Totaal van 94 pakke skunk dagga met ‘n massa van 111,9kg is gekonfiskeer, ter waarde van 5 554 500 Namibiese dollar. ‘n 33-jarige Namibiër en ‘n 35-jarige burger van die Demokratiese Republiek van die Kongo is gearresteer. Hulle sal Vrydag in die periodieke hof op Noordoewer verskyn. Die polisie-ondersoek duur voort.