Nampol reageer op ‘dronk’ beampte wat probeer omkoop

Die Namibiese polisie sê al sy prosesse is in werking gestel na ‘n plasing op sosiale media oor beweerde wangedrag deur ‘n polisiebeampte blykbaar op Rundu. Die plasing maak melding van ‘n beweerde poging van omkopery deur die beampte, sowel as dronkbestuur. Hy het volgens die foto’s ‘n bier tussen sy bene vasgehou in die polisievoertuig, en hy het bestuur. Nampol-woordvoerder adjunkkommissaris Kauna Shikwambi sê die beampte is in die diens van die mag en is by die misdaadvoorkoming-eenheid. Die wangedrag word ondersoek en sy voeg by dat die mag dit nie duld nie. Maar, sy vra dat terwyl die mag dankbaar is vir wangedrag wat bekend gemaak moet lede van die publiek eerder enige klagtes na die stasiebevelvoerder neem in plaas van direk op sosiale media.