Nampol het kommer oor misdadigers in polisie-uniforms

Die Namibiese polisie het sy kommer uitgespreek oor die toenemende gevalle waar misdadigers hulle voordoen as polisie beamptes. Luidens ‘n verklaring deur Nampol se woordvoerder adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het sake van gewapende roof, die onwettige handel in diamante en selfs kaping, voorgekom in die verband. Sy sê lede van die polisie moet hulself aan lede van die publiek voorstel met ‘n aanstellings- of lidnommer wat hulle moet verskaf. Die publiek moet ook paraat wees omdat beamptes altyd in volle uniform sal wees en daar is normaalweg ‘n amptelike voertuig ook teenwoordig. Daar moet gelet word op hoe die ligte op die voertuig aangebring is omdat dit permanent moet wees.