Nampol, Angola werk saam teen brandstof-smokkelary

In ‘n poging om die onwettige oorgrenshandel in Angolese brandstof aan te spreek het die Namibiese polisie Operasie Ngungula van stapel gestuur. Plaaslike media berig dat die operasie deur die hoof van die mag, luitenant-generaal Joseph Shikongo bekend gemaak is. Lede van die mag sal saam met lede van die Angolese polisie op die lande se grens ontplooi word en sal patrollies uitvoer, sowel as in die noordelike gebiede waar die brandstof oop en bloot verkoop word. Die noordelike grens is uiters poreus en daar is gebiede wat heeltemal onbegaanbaar is. Die minister van myne en energie, Tom Alweendo het vroeër gesê Angolese brandstof is nie op standaard nie en kan skade aan voertuie veroorsaak, alhoewel Zambië van voorneme is om die brandstof in te voer. Angolese brandstof is uiters goedkoop in die buurland omdat dit deur die regering gesubsidieer word.