Namibiese regering moet pa staan vir regskoste in Covid-appèlsaak

Die Namibiese regering was gedeeltelik suksesvol in sy aansoek om appèl teen ’n Windhoekse hoërhof-uitspraak oor sekere regulasies met betrekking tot arbeids-optrede wat tydens die grendeltyd ingestel is, maar moet die ander partye se regskoste dek. Twee werkgewersorganisasies en vyf maatskappye was in Junie 2020 suksesvol in ’n hofaansoek waarin die hoërhof bevind het dat die arbeidsregulasies wat ingevolge die Covid-noodtoestand afgekondig is en werkgewers verbied om werknemers af te lê, hulle salarisse te verminder of hulle op verlof te plaas, ongrondwetlik en ongeldig is. Die ongrondwetlikheid van dié arbeidsregulasie is volhou en die regering is weer eens beveel om alle regskostes te betaal.