Namibiese onderwysminister se bedanking geëis

Die Studente-unie van Namibië, SUN, sê in plaas daarvan om skoolhoofde, departementshoofde en onderwysers te blameer vir die teleurstellende eksamenuitslae van die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone en Gevorderde Vlakke, moet die minister van onderwys weet waar die werklike probleem lê. SUN se president Bernard Kavau sê onderwysminsiter Anna Nghipondoka moet optree namens die Namibiese leerders wie se belange sy behoort te behartig. Hy sê die minister en haar bestuurspanne moet verantwoordelik gehou word vir die aanstelling van ongekwalifiseerde, ondergekwalifiseerde en onbevoegde onderwysers in wiskunde. Dit volg nadat 420 deeltydse leerders nul in hul wiskunde-eksamen gekry het. Intussen het die adjunkleier van die Namibiese Ekonomiese Vryheidsvegters, Kalimbo Iipumbu ‘n beroep op die onderwysminister gedoen om te bedank.