Namibiese omgewingsministerie veroordeel Okonjima se renostervideo

Die Namibiese omgewingsministerie het ook die renostervideo van die Okonjima Private Reservaat veroordeel. In ‘n mediaverklaring sê die woordvoerder, Romeo Muyunda, Okonjima gebruik emosionele afpersing en is oneties. Hy sê die video skep ook die indruk dat Namibië se trofeejagbedryf nie volhoubaar is nie. Muyunda beklemtoon dat die regering nie sal toelaat dat ‘n hele renosterbevolking op ‘n eiendom gejag sal word nie. Hy meen die video is roekeloos, want dit stel die renosters bloot aan stropers, omdat die ligging in die video bekendgemaak word. Muyunda sê die ministerie is nie gekant teen veldtogte om geld vir bewaring in te samel nie, maar dit moet eties volgens die land se wette en beleide gedoen word.