Namibiese Hawens-owerheid monitor Transnet-staking

Die Namibiese Hawens-owerheid het gereageer op die Business Leadership South Africa se mening dat die Transnet-staking die Suid-Afrikaanse ekonomie kan lamlê en verdere afgraderings tot gevolg hê. Business Leadership se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, sê myn- en baie ander maatskappye verloor miljarde terwyl die staking aanhou en volgens vroeë beramings gaan dit ses miljard Suid-Afrikaanse rand per dag beloop. Sy sê die staking maak Transnet se finansiële posisie net baie erger. Die uitvoerende hoof van kommersiële dienste van die Namibiese Hawens-owerheid, Elias Mwenyo, sê aan Kosmos 94.1 Nuus daar is op die oomblik geen aanduiding dat die staking die lewering van mangaan aan die hawe van Lüderitz sal beïnvloed nie.