Namibiese ekonomie onder die loep vanmiddag

Die ekonomiese impak van die pandemie sal vanmiddag onder die loep kom by die regering se inligtingsentrum. Die bekende Namibiese ekonoom Mally Likukela sal saam met die adjunk-sekretaris-generaal van die openbare werkers vakbond, die PSUN, die bespreking hanteer. Meer as 12 000 werksgeleenthede het sedert Maart verlede jaar verlore gegaan en ongeveer 800 maatskappye moes hulle deure sluit en die ekonomie het met amper 8 persent gekrimp. Die vooruitsigte vir 2021 is ook deur die huidige ongekende derde vlaag gedemp. Die bespreking sal regstreeks op die inligtingsministerie se sosiale media platforms uitgesaai word en begin om drie-uur.