N$6,3 miljard in toelae uitbetaal

Die Namibiese geslagsministerie in die Presidensie het in die 2020-2021 boekjaar 6,3 miljard Namibiese dollar aan toelae uitbetaal. Volgens Wilbard Nashandi, die ministerie se direkteur van beplanning en navorsing, het die pensioentoelaag 2,9 miljard gekos, wat omtrent 4,6 persent van die land se BBP beslaan. Toelae aan kwesbare kinders het 1,4 miljard dollar beloop. Hulp aan studente was derde geplaas met uitgawes van 1,2 miljard dollar. Daar is net meer as 773 000 begunstigdes by die ministerie geregistreer, net minder as ‘n derde van die land se bevolking. Onderwyssubsidies van net minder as 119 miljoen dollar is gedurende die jaar uitbetaal en die skoolvoedingsprogram, wat die helfte van die 822 000 skoolgaande kinders daagliks met ‘n maaltyd besorg, het die regering net meer as 75 miljoen dollar gekos. Die regering hou voet by stuk dat sy dekking van kwesbares verbeter terwyl kenners meen dat die kwesbares eintlik meer word, in plaas van minder.