N$179m se bates einde ’21 in banke se besit

Die beslaglegging op eiendom vir onbetaalde lenings deur banke in die land bly in die nuus, veral nadat President Hage Geingob tydens sy besoek aan die Bank van Namibië gevra het dat die wetgewing aangepas moet word. Daar word berig dat kommersiële banke in die land teen einde 2021 bates ter waarde van 179 miljoen Namibiese dollar in hulle besit gehad het na dit teruggeneem is as gevolg van wanbetaling. Dit verteenwoordig ‘n 87 persent toename teenoor die 95 miljoen dollar se bates wat in 2020 in hul besit was. Ingevolge die huidige wetgewing moet banke kliënte oorhandig aan prokureurs na 91 dae van geen betaling of aktiwiteit op ‘n lening nie. Sou die eiendom verkoop en die skuld nie gedelg word nie, word die kliënt steeds aangeslaan tot die volle bedrag, met regskostes, betaal is. In reaksie op Geingob se aanmerkings het die sentrale bank se woordvoerder Kazembire Zemburuka aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die bank het ook kommer oor beslagleggings maar geen melding gemaak oor of daar oorweging aan Geingob se kommentaar is of nie.