Moordverdagte van Stinkwater bly in aanhouding

Edward Rooi, die 56-jarige man wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou en dogter Saterdag by die Stinkwater-nedersetting naby Dordabis vermoor het, bly in aanhouding. Hy het vandag voor landdros Atutala Shikalepo verskyn. Rooi staan tereg op twee aanklagte van moord, gelees met die bepalings van die Wet op Gesinsgeweld, nadat hy sy vrou, Maggie Rooi, ook 56, en sy 30-jarige dogter, Goldie Landsberg, doodgeskiet het. Boonop word hy van vier aanklagte van poging tot moord aangekla nadat hy vir Willem Cloete en Silvia Kotze gewond het en glo op twee polisiebeamptes wat op die toneel opgedaag het, geskiet het. Na bewering het Rooi vir Cloete vier keer geskiet het nadat hy hom daarvan verdink het dat hy ‘n verhouding met sy vrou gehad het. Die saak is tot 27 Januarie 2023 uitgestel.