Möller-roof was haastig beplan

Die rooftog wat gelei het tot die dood van die Walvisbaaise sakeman Hans-Jorg Möller is uiters haastig beplan. Volgens die verklaring van een van die verdagtes David Tashiya, het Panduleni Gottlieb, ook ‘n verdagte, hom gekontak oor die roof. Gottlieb is blykbaar gekontak terwyl hy op pad was kus toe en ingelig dat daar ‘n sakeman is met ‘n draagbare kluis wat blykbaar 4 miljoen Namibiese dollar bevat het maar, dat dit vier mans sal vat om die kluis te dra. Gottlieb het toe vir Tashiya geskakel. Tashiya sê hy was daardie aand nog buite die huis toe die skote afgevuur is wat tot Möller se dood gelei het. Die ander verdagtes, David Shekudja, Elly Hinaivali en Malakia Shiweda is saam met Tashiya Windhoek toe terwyl Gottlieb op Okahandja afgelaai is. Möller is op 18 Junie 2016 in die hoësorgeenheid op Walvisbaai oorlede. Die saak duur voor regter Dinnah Usiku voort en al vyf is steeds in aanhouding.