Moeilik om olieprys te voorspel, en daar’s nog die heffings…

Alle aanduidings is dat die olieprys op die oomblik stabiel sal bly in die nabye toekoms maar, die mark is uiters wispelturig en reageer op die geringste aankondiging. Op die oomblik verhandel Brent rondom 91 Amerikaanse dollar ‘n vat. Namibiërs het ‘n verlaging in die brandstofprys broodnodig maar, soos die plaaslike ekonoom Jason Kasuto van Monasa Advisory and Associates sê, is dit baie moeilik om te voorspel wat sal gebeur.

Dit is ook onduidelik wat die regering sal doen met die verligting wat verbruikers ontvang op die heffings wat aan verskeie openbare ondernemings op brandstofverkope betaal word. Verbruikers is onder erge druk en Kasuto sê dit sal die bepalende faktor vir die regering wees.