Mobiele slageenheid werk teen verlies

Meatco se mobiele slageenheid wat in die noordelike kommunale gebied werksaam is, word steeds teen ‘n verlies bedryf en die maatskappy sê ‘n dringende ingryping is nodig. ‘n Totaal van 1 257 diere is in 2020-2021 geslag teenoor 1 136 in die vorige finansiële jaar. Die eenheid het ‘n kapasiteit van tussen 20 en 25 diere daagliks. Diere noord van die rooilyn kan nie kommersieel in die res van die land bemark word nie en Meatco het die eenheid in die gebied ontplooi toe die abattoirs in Oshakati, Rundu en Katima Mulilo gesluit het. Hulle is intussen weer in bedryf geneem. Meatco sê hy het reeds in gesprek getree met lande soos Ghana, Angola, die DRK en ook Koeweit wat vleis van bek- en klouseer gebiede kan ontvang. Meer as 60 persent van Namibië se beesbevolking kom noord van die rooilyn voor.