Ministerie vaar uit oor Engela-hospitaal aantygings

Die Namibiese gesondheidsministerie het skerp gereageer op kommentaar deur die PDM-parlementslid Hidipo Hamata na sy besoek aan die Engela-hospitaal. Luidens die verklaring wat deur die uitvoerende direkteur Ben Nangombe uitgereik is, het Hamata glad nie die bestuur van die hospitaal ontmoet nie en ook geen terugvoer by hulle ontvang nie. Nangombe sê daar is ‘n kragopwekker en daar is nie probleme met krag by die fasiliteit nie. Riool word op die oomblik deur die Helao Nafidi-dorpsraad hanteer en net drie yskaste in die een lykshuis, uit 15, werk nie. Daar is ook nog ‘n lykshuis en tans is daar geen uitdagings in die verband nie. Die wasmasjiene is wel stukkend en terwyl daar op herstelwerk gewag word, word wasgoed deur ‘n maatskappy hanteer. Hy sê ook dat ‘n foto wat vanoggend in die media gebruik is, nie by die hospitaal geneem is nie. Hy het lede van die publiek, en veral leiers, gemaan om nie sensasie te soek nie.