Ministerie sê hy vorder met Etosha-lyn

Die Namibiese omgewingsministerie benut op die oomblik vrywilligers van die Nasionale Jeugdiens vir die opknapping van die Etosha-heining. Daar is reeds ‘n memorandum van verstandhouding onderteken met die diens in die verband omdat diensverskaffers te duur is. Daar was kwotasies ingedien vir tot 700 000 Namibiese dollar per kilometer en daar is 690 kilometer wat nog voltooi moet word van die 820 kilometer lange heining. Die ministerie verskaf die materiaal maar daar is ook vrae oor die tenders in die verband. Daar is 17 tenders onlangs ontvang en nie een van ‘n verskaffer van boumateriaal nie. Die tender moes ook verleng word omdat die spesifikasies nie korrek gelaai is nie. Kwotasies vir materiaal wissel van 203 000 Namibiese dollar tot 17,9 miljoen dollar. Die park se heining is nie voldoende oor die jare onderhou nie en boere om die park, beide kommersieel en kommunaal sukkel met wilde diere.