Miljoene in aftreefondse is nie geëis nie

Die Namibiese toesighoudende owerheid, Namfisa, sê pensioenarisse en hul begunstigdes het verlede jaar meer 176,4 miljoen Namibiese dollar se voordele nie geëis nie. Volgens die owerheid toon die syfer dat talle afgetredenes nie bewus is van die fondse nie of dat die pensioenadministrateurs nie genoeg inligting het om begunstigdes te kontak nie. Kenneth Matomola, uitvoerende hoof van Namfisa, sê as die voordele binne ‘n sekere tyd nie geëis word nie, word dit na die Meester van die Hoërhof deurgegee, wat dan die eisers kontak. In 2020 is 273,8 miljoen dollar nie opgeëis nie. Intussen het die totale voordele wat in 2021 betaal is, 10,4 miljard dollar beloop, ‘n toename van 14,4 persent vanaf die vorige jaar. Volgens Namfisa, is dit aangedryf deur afleggings en aftredes wat gedurende die jaar as gevolg van die pandemie waargeneem is.