Mikroleners is bron van kommer in huishoudelike skuld

Huishoudelike skuld in Namibië is ‘n groot bron van kommer. Daar is onlangs besprekings aanlyn gehou waar staatsamptenare gebieg het dat wanneer hulle hul maandelikse salarisse ontvang, word dit alles aangewend om skuld aan mikroleners terug te betaal. Sommige sê hulle gaan lenings by die instansies aan om lenings by ander instansies te betaal. Daar is ook ‘n nuwe tendens om eerder ‘n privaatlening by ‘n bank aan te gaan om ‘n voertuig te koop eerder as om finansiering vir die voertuig te bekom. Die jongste Namfisa syfers toon  dat die leningsboek van mikroleners in die land op die oomblik op 7.1 miljard Namibiese dollar staan uit die net meer as 65 miljard dollar se privaatskuld wat aangeteken is. Kenners meen die syfer sou baie hoër gewees het as ongeregistreerde en ondergrondse lenings bygetel was.