Meer as 20% Namibiërs staar voedselkrisis in die gesig – verslag

Minstens 37 persent van die Namibiese bevolking het toegang tot genoeg voedsel, terwyl 33 persent bekommerd is oor hul volgende maaltyd, 25 persent ervaar ‘n voedselkrisis en 5 persent verkeer in ‘n noodsituasie, sê die Food Security Information Network. Volgens die netwerk se Global Report on Food Crises 2023 staar elf van die 13 lande in Sentraal- en Suider-Afrika groot voedselkrisisse in gesig. In Namibië en Eswatini staar meer as 20 persent van die nasionale bevolking ‘n voedselkrisis in die gesig. Die verslag lui egter dat vlakke van akute voedsel-onsekerheid ook na verwagting aansienlik sal daal in Namibië. Ekonomiese skokke was die hoofdrywer van akute voedsel-onsekerheid in Namibië, Eswatini, Lesotho en Zimbabwe vir altesaam 4,42 miljoen mense, wat vererger is deur die Russiese-Oekraïnse oorlog.