Medies betaal vir spuit, nie jy nie

Lede van privaat mediese fondse het met skok gereageer op betalings vir inentings deur hulle fondse wat hulle op state agtergekom het. Mediese fondse het onlangs aangekondig dat hulle die regering in die koste van die inentings sal bystaan en op die oomblik vind dit plaas. Die betaling van ongeveer 713 Namibiese dollar vir twee inentings, en ‘n verdere 356 dollar vir ‘n versterkingdosis, word direk aan die ministerie van finansies oorbetaal om die regering by te staan om nog entstowwe aan te koop. Die uitvoerende direkteur in die gesondheidsministerie, Ben Nangombe, het bevestig dat lede nie hiervoor betaal nie. Dit word op state aangehaal vir oudit-doeleindes en vir die insameling van data. Die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula het ook bevestig dat die inisiatief om vir die inentings ‘n bydra te maak, van die industrie afgekom het.