Media loop weer deur, die keer deur Audrin Mathe

Die media het weereens onder kritiek deur die Namibiese regering deurgeloop. Audrin Mathe, die uitvoerende direkteur in die inligtingsministerie sê volgens nuusagentskappe dat media hulle geneigdheid tot konflik, vrees, drama en wraak moet laat vaar. Hy sê dat die regering en die media nie vyande is nie maar dat die regering eerder die media nodig het om oor sy agenda verslag te doen sodat landsburgers beter ingelig is. Hy voeg by dat die verspreiding van verkeerde inligting en fopnuus akkurate en onpartydige joernalistiek ondermyn. In sy mening het winste die plek van talent en ervaring in die nuuskamer ingeneem. Mathe sê swak salarisse het gelei tot ‘n gedemoraliseerde arbeidsmag en ‘n hoë omset. As gevolg hiervan het stories óf net een bron of is anoniem. Sy aanmerkings kom na talle verklarings deur die woordvoerder in die presidensie, Alfredo Hengari, wat gereeld die media berispe vir kritiek teen President Hage Geingob.