Martha Namundjebo eis belegging van 39 jaar by bank terug

Daar is ‘n interessante saak in die hoërhof voor regter Orben Sibeya vanoggend. Die bekende sakevrou Martha Namundjebo dagvaar First National Bank, destyds Barclay’s Bank, vir betaling van 10 000 Namibiese dollar en rente teen prima plus 5 persent vanaf 30 Desember 1983, tot die bank die betaling maak. In haar stukke sê sy, sy het op daardie dag, 39 jaar gelede, op Oshakati die deposito by die bank gemaak. Die fondse was belê vir ‘n jaar en sou dit nie dan onttrek word nie, sou die belegging op dieselfde bepalings hernu word vir die volgende jaar. Die rentekoers daardie tyd was 16 persent of te wel, prima plus 5 persent. Sy sê sy het haar depositostrokie, ingevolge die bepalings van die belegging, op 8 Junie 2022 na die bank toe geneem om haar fondse te onttrek maar die bank het dit nog nie aan haar oorgedra nie. Die bank verdedig die saak en vandag word saakbestuur gedoen vir die bepaling van die datums wanneer die bank sy stukke kan indien.