Maren moet kom – Noa

Die Hoërhofsaak van die Fishrot-skandaal skop op 22 April in die hoofstad af. Plaaslike media berig dat Paulus Noa, die Direkteur-Generaal van die Teenkorrupsie Kommissie bevestig het dat ‘n lasbrief vir die uitlewering van die Windhoek prokureur Maren de Klerk wat by die skandaal betrek word, uitgereik is. De Klerk word daarvan verdink dat hy meer as 75 miljoen Namibiese doller van die Fishrot fondse oor en weer deur sy trustrekening betaal het. Hy het op 17 Januarie 2020 landuit gevlug en is na bewering in die Paarl. De Klerk se beëdigde verklaring van meer as 400 bladsye is aan die media uitgelek nadat dit by die kommissie ingedien is. Hy is die eerste persoon wat by die skandaal betrek word wat melding gemaak het van die betrokkenheid van President Hage Geingob wat volgens hom, die Boss genoem is deur die groep verdagtes.