Maren binnekort tuis – Min. van Justisie

Daar word berig dat die Suid-Afrikaanse Minister van Justisie Ronald Lamola nog net die dokumente moet onderteken en dan sal die Windhoek prokureur Maren de Klerk uitgelewer word aan Namibië. De Klerk word betrek by die Fishrot-skandaal en is volgens berigte as betaalmeester ingespan om omkoopgeld vir viskwotas na begunstigdes te kanaliseer. Hy het vroeg in 2020 Namibië verlaat en volgens die Uitvoerende Direkteur in die Namibiese Ministerie van Justisie, Gladice Pickering, weet owerhede presies waar hy hom bevind. Die Fishrot-saak is weer vandag in die Hoërhof voor Regter Christie Liebenberg om die twee sake, die eerste met betrekking tot 150 miljoen doller in omkoopgeld en die tweede, oor wanvoorstellings aan die Ontvanger oor Nengomar Pesca Namibië se inkomste, saam te voeg.