Man sterf op Walvisbaai ná muur op hom val

‘n Namibiese man, Matheus Wileinge, het gesterf nadat ‘n muur vandag op hom geval het by United Fishing-perseel op Walvisbaai. Volgens die Namibiese polisie was die 32-jarige man en ‘n medewerker van Sophos Architention besig om loopgrawe langs die muur te grawe wat United Fishing en die vlootkorps se basis verdeel, toe die muur skielik op hom geval het. Sy 26-jarige medewerker het beserings aan albei bene opgedoen. Die oorledene is op die toneel deur die paramedici van St. Gabriel dood verklaar. Die beseerde Namibiese man is in ‘n stabiele toestand na die Welwitchia-privaathospitaal, Walvisbaai gehaas. Die oorledene se liggaam is na die Walvisbaaise polisie-lykshuis geneem vir nadoodse ondersoek.