Man sterf na seekoei-aanval, terwyl mens-dier-konflik onder die loep is

Terwyl die nasionale konferensie oor mens-dier-konflik van die omgewingsministerie in die hoofstad aan die gang is, het ‘n Namibiese man ná ‘n seekoei-aanval aan sy beserings in ‘n hospitaal in die Kavango-Oos-streek beswyk. Die 26-jarige Likuwa Kuduma en sy suster met haar baba op haar rug, is in hul makôrô deur seekoei in die rivier aangeval toe hulle vuurmaakhout op ‘n eiland wou gaan haal. Kuduma is deur die seekoei aan sy borskas gebyt en naby die oewer laat los. Sy suster kon daarin slaag om na die eiland swem met haar baba wat byna verdrink het. Iemand wat in ‘n ander makôrô was, het die ma en baba vanaf die eiland na die oewer naby die Shitemo-nedersetting geroei. Kuduma is na die Rundu-staatshospitaal geneem waar hy die volgende dag dood is.