Man kry strawwe vonnis vir besit van ietermagô-vel

‘n Pa van sewe van die Makolonga-nedersetting in die Zambezi-streek is in die spesiale wildmisdaadhof in Katima Mulilo tot vier jaar tronkstraf of ‘n boete van 80 000 Namibiese dollar gevonnis. Die 49-jarige Sipilisa Albert Sakutuka het in 2021 ‘n ietermagô-vel aan ‘n geheime polisiebeampte vir 6 000 Namibiese dollar te koop aangebied. Sakutuka, wat onskuldig gepleit het, het getuig die ietermagô-vel het nie aan hom behoort nie, maar hy het net een ietermagô-skub nodig gehad om aan ‘n tradisionele geneesheer te gee om sy dogter vir haar swak sig te behandel. Landdros Barry Mufana het aan Sakutuka verduidelik hy kan teen die vonnis appelleer.