Mag spreek kommer uit oor fyn beplande plaas-rooftogte

Die weeklikse misdaadverslag van die Namibiese polisie was weer vol van verskeie oortredings wat moord by drinkplekke, verkragtings, dronkbestuur en dwelms insluit. Maar, die mag het sy kommer uitgespreek oor fyn beplande rooftogte soos die roof by plaas Arcadia in die Otjinene-distrik waar ‘n 64-jarige boer beroof is. Vier rowers het die plaas binnegekom en met spesiale toerusting die kluis oopgemaak. Vier wapens is gesteel sowel as drie skootrekenaars. Die verdagtes het in ‘n voertuig, wat by die plaashek gewag het, weggekom met die goedere ter waarde van meer as 136 000 Namibiese dollar. Verskeie gevalle van veediefstal is ook aangemeld.