Mafe se saak tot Januarie uitgestel

Die voorverhoorverrigtinge van die beweerde brandstigter by die parlementsgebou in die Kaap, Zandile Mafe, is vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad tot 27 Januarie uitgestel. Op die vorige datum het die verrigtinge sonder hom voortgegaan nadat hy geweier het om die hof se aanhoudingselle te verlaat. Hy het gekla hy word van verskeie items ontneem in sy sel in die Pollsmoor-gevangenis, waar hy die afgelope 11 maande aangehou word. Die 49-jarige staan tereg op aanklagte van terrorisme, brandstigting, huisbraak, diefstal en die besit van plofstowwe. Die brand in Januarie het skade geraam op byna 3 miljard Suid-Afrikaanse rand veroorsaak.