LPM gekant teen uraanontginning in die Kalahari

Die Landless People’s Movement is gekant teen enige uraanontginning in die Stampriet-bekken. Volgens die LPM-leier, Bernadus Swartbooi, is dit veels te riskant vir landbou-bedrywighede in die gebied. Hy sê hulle wil dit nie hê nie, en die land het dit nie nodig nie. In sy mening het die algemene Namibiese burger nog nooit enige voordeel uit uraanontginning getrek nie. Swartbooi het gesels oor Uranium One se beplande in-situ loging wat hy diep in die Kalahari naby Leonardville wil benut om uraanbronne te ontgin. Die belegging oor 25 jaar kan 500 miljoen Amerikaanse dollar beloop. Swartbooi sê die bewyse is reeds daar en waar kommunale gebiede by huidige uraanmyne is, is water reeds besoedel.