Litiumverwerking kan US$1 miljard jaarliks beteken

Na die minister van myne en energie Tom Alweendo ‘n verbod op die uitvoer van minerale, soos litium aangekondig het, het Bloomberg ‘n onderhoud met hom gevoer waar hy daarop aandring dat Namibië nie kan industrialiseer as hy nie sy eie bronne begin verwerk nie. Op die manier kan die land ook beleggings lok. Volgens Bloomberg het Namibië aansienlike deposito’s van die waardevolle mineraal wat in batterye vir elektriese voertuie gebruik word. Die bedryf kan byna 1 miljard Amerikaanse dollar jaarliks werd wees met produksie wat eers vanaf 2025 begin toeneem. Namibië volg in Zimbabwe se spore wat in Desember ‘n verbod op litiumuitvoere geplaas het. Sogenaamde bron-nasionalisme neem regoor die wêreld en die vasteland toe soos regerings poog om beter verdienste van hulpbronne te bewerkstellig.