Langste skoolsluiting ter wêreld kom tot ‘n einde

Uganda het vandag die langste skoolsluiting ter wêreld beëindig en miljoene leerders is beveel om byna twee jaar nadat klasse weens die koronavirus-pandemie opgeskort is, terug te keer na die klaskamer. Daar word berig sowat 15 miljoen leerders het sedert Maart 2020 nie skool bygewoon nie, nadat klaskamers in Uganda gesluit is toe Covid-19 die wêreld getref het. Die minister van onderwys, John Muyingo, sê alle leerders sal outomaties klasse ‘n jaar bo dié waar hulle opgehou het, hervat. Volgens die jongste regeringsyfers het Uganda 153 762 Covid-19 gevalle en 3 339 sterftes aangeteken.