Landingstroke: Mutorwa soek dringend insette

Die Namibiese vervoerminister eis voorstelle van die lugvaartbedryf oor die pad vorentoe vir die implementering van die omstrede nuwe konsepregulasies vir vliegvelde en landingstroke in die land. John Mutorwa sê belanghebbendes moet teen vandag hulle voorstelle indien in verband met die registrasie van alle landingstroke en vliegvelde in die land, wat vanaf 1 Oktober geïmplementeer word. Die voorgestelde registrasie is volgens die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging, bekend as Aopa, onvolhoubaar en hulle het reeds saam met instansies in die toerisme- en jagbedryf met die burgerlugvaatowerheid daaroor vergader om wat hulle as ‘n “moontlike katastrofe” beskryf, af te weer. Hulle meen die regulasies is onprakties in hul huidige vorm en sal verreikende negatiewe gevolge vir die lugvaartbedryf sowel as sleutel ekonomiese aktiwiteite soos toerisme en gesondheidsdienslewering in afgeleë gebiede inhou.