Landbou plaas verbod op Spaanse pluimvee-invoere

Namibië het ‘n verbod op pluimvee-invoere vanaf Spanje aangekondig weens die uitbreking van voëlgriep in daardie land. Die landbouministerie sê dat die verbod terugwerkend is vanaf 18 Julie vanjaar, as gevolg van die inkubasie-periode van 14 dae. Dus, besendings wat pluimveeprodukte wat verpak is op, of na die begindatum bevat, sal teruggestuur word of vernietig word. Die hoof van veeartsenydienste, dr Albertina Shilongo, sê alle uitgereikte invoer- en transito-permitte is herroep. Gekookte pluimvee-produkte vir kommersiële doeleindes mag steeds met ‘n veeartseny-invoerpermit ingevoer word. Die aankondiging kom minder as ‘n maand na die ministerie beheermaatreëls opgehef na ‘n uitbreking van voëlgriep in die Erongo-streek. Daar behoort geen kommer oor tekorte van pluimvee te wees nie. Die plaaslike Namib Poultry Industries het oorgenoeg voorraad.