Kunene-vlakke tel mooi op by Ruacana

Daar is merkwaardige verbetering in die vlakke van die Kunene-rivier. Die Namibiese hidrologiese diens sê vlakke is op die oomblik op 268,8 kubieke meter per sekonde teenoor Woensdag se 248,6 kubieke meter per sekonde aangeteken. Daar was aan die begin van Maart groot kommer oor die rivier se vloei, wat by die Ruacana hidroëlektriese aanleg gemeet word. Teen 1 Maart was die vloei ‘n skamele 47,6 kubieke meter per sekonde. Sonder vloei kan die aanleg nie elektrisiteit opwek nie. Ruacana se vier turbines kan 330-megawatt opwek as die rivier sterk vloei rondom 300 tot 500 kubieke meter per sekonde. Namibië se kragopwekking vermoë het volgens die Namibiese Statistieke-agentskap in Julie verlede jaar met 69,2 persent geval as gevolg van Ruacana se vermoë wat met amper 86 persent gedaal het.