Kuisebmond-brand: Dit was my selfoon

Plaaslike media berig dat dit blykbaar ‘n selfoon se outomatiese regstelling-stelsel was wat ‘n inwoner van Walvisbaai agter tralies laat beland het. Alfeus Hamunyela word daarvan aangekla dat hy sy meisie se huis in Kuisebmond aan die brand gesteek het en sewe ander huise ook verwoes het. Hy het reeds in die landdroshof op die dorp verskyn na hy gearresteer is. Sy meisie het aan owerhede gesê Hamunyela het in ‘n teksboodskap beken dat hy die huis aan die brand gesteek het. In die hof sê hy sy selfoon se outomatiese regstelling het die ‘didn’t’ na ‘did ‘verander en daarom het die boodskap gelees dat hy wel die vuur begin het. Dit het hom niks gehelp nie en sy saak is tot 28 Junie uitgestel sonder borg. Hy sal vermoedelik later ‘n formele borgaansoek bring.