Kuberkrakers sê jammer oor Colonial

Die Amerikaanse FBI sê die kuberaanval op Colonial Pipeline in Texas is deur ‘n groep, DarkSide, uitgevoer. Losprys-sagteware is gebruik in die kuberaanval wat die verspreiding van brandstof en olie teen die Amerikaanse ooskus bemoeilik het. President Joe Biden moes ‘n noodtoestand verklaar om toe te laat dat brandstof per pad vervoer kan word. DarkSide het intussen sy eie verklaring uitgereik en gesê dat dit nie sy doelwit was om enige ontwrigting te veroorsaak nie en dat hy sy sagteware aan ‘n ander groep verkoop het wat die aanval uitgevoer het. DarkSide sê hy sal in die toekoms beter keuring toepas op kliënte. DarkSide sê verder dat hy geen politieke oortuigings het nie en sy enigste doelwit is om geld te maak. Colonial se stelsels is steeds nie aanlyn nie.