Kowbucha is blykbaar die nuwe ding

En ons weet almal van kombucha… maar wat van KOWbucha? By die Massey-universiteitsplaas in Palmerston-Noord in Nieu-Seeland is 12 kalwers deel van ‘n steekproef om te kyk of  hulle minder winde kan opbring. Kowbucha is ‘n probiotika wat gemeng word in ‘n melkagtige drankie en wat aan die kalwers gevoer word. Die eksperiment is deel van ‘n reeks proewe wat sedert 2021 deur die Nieu-Seelandse suiwelreus Fonterra uitgevoer word om te bepaal hoe doeltreffend die probiotika is om metaanvrystellings te verminder. Nieu-Seeland poog om biogeniese metaanvrystellings met 47 persent teen 2050 te verminder. Blykbaar werk dit en die besies bring 20 persent minder metaangas op wanneer hulle winde opbring. Nieu-Seeland sal in 2025 die eerste land word om landbouvrystellings te beboet, insluitend metaanvrystellings van koeie en skape, wie se spysverteringstelsel metaan produseer wanneer plantegroei afgebreek word.