Kospryse daal internasionaal weer, 6de agtereenvolgende maand

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie sê wêreldvoedselpryse het in September vir ‘n sesde agtereenvolgende maand gedaal. Die organisasie se prysindeks was in September gemiddeld 136,3 punte, ‘n daling van 1,1 persent vanaf Augustus, maar is steeds 5,5 persent hoër as in September 2021. Volgens die organisasie is die daling gedryf deur ‘n “skerp daling” in die prys van plantaardige olies, suiker, vleis en suiwelprodukte. Maar, koringpryse is op as gevolg van onsekerheid oor die voortsetting na November van ‘n VN-bemiddelde ooreenkoms wat Oekraïne toegelaat het om sy graan via die Swart-see te verskeep. Droë toestande in Argentinië en die Verenigde State het ook bygedra tot die styging in globale graanpryse. Die agentskap sê 45 lande, waaronder 33 in Afrika, nege in Asië, twee in Suid-Amerika en die Karibiese Eilande, en een in Europa het voedselhulp nodig.