Kontroversiële oliebergingsfasiliteit sorg vir goeie inkomste

Namcor het tot dusver sowat 3,3 miljard Namibiese dollar uit sy nasionale oliebergingsfasiliteit op Walvisbaai  gegenereer. Die fasiliteit, wat in Maart verlede jaar aan Namcor oorhandig is, kan 75 miljoen liter petroleumprodukte stoor. Die projek was baie omstrede, veral toe daar aangekondig is dat die boukostes daarvan van 3,7 miljard dollar tot 6,5 miljard dollar opgeskiet het. Volgens die finansminister, Ipumbi Shiimi, werk die fasiliteit op die oomblik teen 60 persent van sy kapasiteit. Namcor voer die produk in en versprei dit na sy kliënte, ook in Botswana en Zambië. Die maatskappy hanteer ook invoere van maatskappye soos Puma, Engen en TotalEnergies. Benewens die bedryf van die fasiliteit, het Namcor ook die kleinhandelsektor betree en teiken teen 2024, 33 vulstasies in die land.