Bulle wen 44-22 teen Benetton, Stormers speel later vandag

Twee van die naweek se Verenigde Kampioenskapswedstryde in Suid-Afrika is uitgestel weens ‘n uitbreking van maaggriep in Ulster en Glasgow Warriors se groepe. Glasgow moes vanmiddag op Ellispark teen die Leeus speel en Ulster vanaand in Durban teen die Haaie. Die VRK se reëlingskomitee sê nie Ulster of Glasgow kan tans ‘n span in die veld stuur nie. Ander datums vir die twee kragmetings sal oorweeg word. Intussen vier die Bulle ‘n indrukwekkende 44-22 oorwinning oor Benetton in Treviso, Italië. Die rustydtelling was 9-3 in die tuisspan se guns. Vanaand het die Stormers, wat 15 agtereenvolgende oorwinnings op hulle kerfstok het, te doen met ‘n taai uitdaging teen Cardiff in Wallis.