Koningin lê vanaf vandag in staatsie

Koningin Elizabeth II se kis vertrek vandag van Buckingham-paleis na die Westminster-saal by die Parlement waar sy vier dae lank in staatsie sal lê. Koning Charles III, sy seuns prins William en prins Harry, asook ander senior koninklikes sal die kis te voet na Westminster vergesel. Die reis behoort 38 minute te duur. Tydens die prosessie sal ‘n saluut in Hyde Park afgevuur en die klokke by Big Ben gelui word. Lede van die publiek kan van vanaand af by Westminster hulle eer aan die koningin betoon. Daar word verwag dat tot drie keer die hoeveelheid mense sal eer aan die koningin betoon as wat aan Winston Churchill in 1965 betoon is. Vir hom het 320 000 mense opgedaag.