Kommer oor Zaporizhzhia neem toe

Die internasionale atoomenergie-agentskap waarsku dat die hernude bomaanvalle naby die Zaporizhzhia-kernaanleg in Oekraïne ‘n moontlike ramp inhou. Die aanleg wat Europa se grootste is, is reeds sedert Maart onder Russiese magte se beheer maar word deur Oekraïnse personeel bedryf. Die twee lande beskuldig mekaar van die bomaanvalle die afgelope paar weke. Die agentskap se direkteur-generaal, Rafael Mariano Grossi, sê hulle gaan voort met gesprekke in ‘n poging om ‘n sending kenners na die aanleg te stuur om te help om kernveiligheid en -sekerheid te verseker.