Kommer oor ramp op Asores

Daar is groot kommer oor ‘n moontlike natuurlike ramp wat op Sao Jorge, in Portugal se Asore-eilande, kan voorkom. Die middel-Atlantiese eiland is die afgelope dae deur duisende klein aardbewings geteister, en daar is vrese dat die meer as 10 000 skuddings wat sedert verlede Saterdag aangeteken is, ‘n vulkaniese uitbarsting of ‘n kragtige aardbewing kan veroorsaak. Sowat 200 van die aangetekende aardbewings, met ‘n omvang van tot 3,3 op die Richterskaal, is deur die bevolking gevoel. Die streek se seismo-vulkaniese toesigsentrum het reeds Woensdag die vulkaniese waarskuwing tot vlak vier verhoog, wat beteken dat daar ‘n “werklike moontlikheid” is dat die vulkaan vir die eerste keer sedert 1808 kan uitbars. Sao Jorge is een van nege eilande waaruit die Asore bestaan.