Kommer oor onwettige wateraansluitings

Owerhede op Ondangwa sê onwettige wateraansluitings word ‘n daadwerklike uitdaging en dit neem toe. Volgens Petrus Shipanga, die dorpsraad se bestuurder van infrastruktuur en tegniese dienste, kom meeste van die aansluitings in die informele nedersettings voor. Lede van die gemeenskap wat bewus is van die onwettige bedrywighede meld dit ook nie aan nie en Shipanga sê hulle sukkel om betrokkenes te identifiseer. Shipanga sê sou enigiemand gevang word met onwettige watertoevoer hulle ‘n boete van 2 0000 dollar opgelê word. Dorpsrade regoor die land gaan reeds gebuk onder uitdagings met uitstaande skuld aan NamWater en Shipanga sê die diefstal van water vererger die stand van sake. Infrastruktuur kan ook nie onderhou word nie omdat daar nie betalings ontvang word nie.