Komitee sal heining by Angolese grens oprig

‘n Tegniese komitee met lede van beide Namibië en Angola is daargestel om ‘n lewendehawe-heining by die grens van die twee lande op te rig. Daar word verwag dat die ministerie van internasionale betrekkinge binnekort die lede se name bekend sal maak. Kwessies van boere van beide lande wat die grens oorsteek met hulle diere op soek na weiding, sowel as die beweging van landsburgers sal deel vorm van die komitee se werksaamhede. Die veterinêre kordonheining was onlangs weer in die nuus en die leier van die Affirmative Repositioning-beweging dr. Job Amupanda dagvaar die regering vir die verwydering daarvan nadat vleis wat hy noord van die rooilyn gekoop het, by Oshivelo gekonfiskeer is. Die grootste uitdaging met die kordonheining is die poreuse grens met Angola en die buurland se onvermoë om bek- en klouseer doeltreffend te beheer.