Ondersoek na ineenstorting binnekort van stapel gestuur in Florida

Die dodetal ná ‘n gebou in Miami ineengestort het, het tot nege gestyg, nadat nog vier liggame in die puin van die Champlain Towers South-woonstelblok in Florida opgespoor is. Meer as 150 mense is steeds vermis. Volgens internasionale media het ‘n ingenieursverslag van 2018 wat Saterdag bekend gemaak is, onthul daar was ‘n groot fout in die oorspronklike ontwerp van die 12-verdieping-gebou. Die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, sê hoewel die belangrikste nou is om na die slagoffers se naasbestaandes en diegene wat dakloos is om te sien, is ‘n omvattende ondersoek na die ramp volgende op die lys.