Kinders vind baba-fetus in plastieksak op ashoop

‘n Vier tot ses maande oue fetus van ‘n meisie is by ‘n vullisgebied tussen die DRK- en Ombili-informele nedersettings op Otjiwarongo gevind. Volgens die Namibiese polisie se woordvoerder in die Otjozondjupa-streek, inspekteur Maureen Mbeha, het ‘n groep kinders op twee plastieksakke met bloedvlekke afgekom wat vermoedelik gebruik is om die liggaam toe te draai voordat dit weggegooi is. Sy sê tot dusver is geen verdagte in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, en sy doen ‘n beroep op die enige iemand met inligting om Nampol te kontak. ’n Saak van babastorting en/of verberging van geboorte is by die Otjiwarongo-polisiestasie geopen en die ondersoek duur voort.